Tribal Echo dra HipHopKop-Kroon
www.hiphopkop.com
“Dít is die resultaat van tien jaar se harde werk en ondersteuning. Dit was humble beginnings, maar ons het baie hard gewerk.” Dit is die woorde van Frazer Barry, oftewel MC, van Tribal Echo, Kleinmond se eie hip-hop-rockers. Hulle is Saterdag, 8 Oktober 2011, aangewys as die wenners van die derde en finale rondte van HipHopKop, die grootste Afrikaanse hip-hop-kompetisie in Suid-Afrika, tydens Clover Aardklop.
“Ons het met ons vertrek na Potchefstroom vir onsself gesê ons kan nie só ver kom en nie goed doen nie. Ons het besluit om teen onsself te kompeteer en nie teen die ander finaliste nie, dit was vir ons belangrik, want al die deelnemers is uniek en elkeen se ritmes, fokus en rym verskil.” Volgens Barry was daar baie strawwe kompetisie en was dit kop-aan-kop.
Tribal Echo is ’n veelsydige hip-hop-groep wat weet hoe om die verhoog aan die brand te sing en te rymklets. Hulle het alreeds die verhoog gedeel met kunstenaars in uiteenlopende genres, insluitend Die Heuwels Fantasties en Emo Adams. Barry sê hulle sien hulself as woordkunstenaars en nie rappers nie. “Ons musiek is meer hip-hop-rock, of kitaargedrewe hip-hop.”
Tribal Echo het tydens hulle optrede goeie interaksie met die gehoor gehad. “Ons het hulle gecharm en hulle het dit verskriklik geniet. Dit was ’n wonderlike crowd met baie hoë energievlakke.” Barry sê hulle is daaraan gewoond om voor groot gehore op te tree en is ook nie vreemdelinge as dit kom by feeste nie. Verder vertel hy dat hulle tydens die kompetisie goeie bande met ander kunstenaars gesmee het en dat die kunstenaars baie by mekaar geleer het. “Daar is nou ook verbintenisse tussen verskillende kunstenaars, wat geleenthede vir samewerking skep.” Juis hierin lê een van die redes waarom Deon Maas, Projekleier, HipHopKop die lig laat sien het. “HipHopKop skep ideale netwerk-geleenthede waar kunstenaars van mekaar kan leer en idees met mekaar kan uitruil. Dit skep ook die geleentheid vir kunstenaars om hulle talent in ’n inkomste te omskep,” meen Maas.
Barry voel dat Afrikaanse hip-hop, soos Afrikaanse rock, beslis ’n baie prominente plek in ons land moet hê. “As die kunstenaars ’n platvorm kry en die gehore is daar, is daar beslis geweldige geleenthede. Dit is op ’n manier eksklusief, maar dit moet reg verpak word,” sê hy. Volgens hom bestaan die regte verpakking uit die omstandigehede van die rym en hoe die kunstenaars hulself aanbied op die verhoog. “Jou rym moet relevant en toepaslik op huidige omstandighede wees, dit moet die gehoor laat regop sit en dink. Verder moet die kunstenaars ’n meer korporatiewe voorkoms hê. Die kombinasie van woord en aanbieding is baie belangrik.”
Invloed op Tribal Echo se musiek is, volgens Barry, beide nasionaal en internasionaal. “David Kramer het ’n reuse-invloed op ons musiek gehad. Ook Anton Goosen, Queen, U2, die Fugees en Arrested Development. Ons hou van live instrumente as deel van ons musiek en dit gee ’n sterk klassieke invloed.”
“Die finaal was baie tight, maar uiteindelik was die klankgehalte, gekombineer met hul optrede, deurslaggewend.” Só beskryf Dokte, voormalige lid van Kallitz en een van die beoordelaars, die beoordelaars se besluit in Tribal Echo se guns.
“HipHopKop is ’n baie lekker vonk vir dié genre en hierdie is beslis net die begin,” sê Dokte. Volgens hom het die drie verskillende rondtes van HipHopKop ’n baie goeie impak gehad, want baie meer mense weet nou van hip-hop. “Dié projek maak deure oop vir ander kunstenaars en dien ook vir hulle as motivering.” HipHopKop is, volgens hom, die enigste beweging wat die nodige fondse, tyd en struktuur tot Afrikaanse hip-hop-beweging voeg.
Dokte meen dat die kwaliteit talent wat die kompetisie opgelewer het van hoogstaande gehalte was en dat hulle uitsien na die toekoms van Afrikaanse hip-hop in die land. “Dit is belangrik dat al hierdie kunstenaars hulle passie volg en besef daar is ’n plek vir almal in die genre.”
Die lede van Tribal Echo, Sandy Gertse, oftewel Galleo, en Barry, sluit aan die einde van Oktober by die wenners van die vorige twee rondtes van HipHopKop, MC Cole (Kuilsrivier) en die superduo Jbux & Schaik (Port Elizabeth) aan. Hulle sal ’n CD opneem by Ghetto Ruff Records, die mees toonaangewende hip-hop platemaatskappy in die land. Dié CD’s sal vroeg in 2012 op die rakke verskyn.
HipHopKop word ondersteun deur Media24, die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA), asook mediavennote MK, Rapport en die Son.
Inskrywings vir HipHopKop is in die vorm van klank- of videogrepe ingestuur na die webblad en het ’n model gevolg waar kunstenaars hulle selfoon-musiekvideos vooraf kon opneem en op die webwerf laai. Om na die inskrywings te luister en vir meer inligting oor HipHopKop, besoek die webblad by www.hiphopkop.com.
