Hoë lof vir Blouvlagprogram
Vltr: mnr. Malcolm Powell, De Wet Nel, rdl Rudolph Smith, Burgemeesterskomiteelid vir Gemeenskapsdienste, en Leon Steyn.
Bykomend daartoe is pilootstatus vir ‘n Blouvlag aan die Dyer Island Conservation Trust se walvisbesigtigingsboot, Whale Whisperer, toegeken vir die omgewingsensitiewe wyse waarop hy sy aktiwiteite bedryf.
Die oorhandiging het saam met die elfde herdenking van die Blouvlagprogram in Suid-Afrika geval. Die Adjunk-minister van Omgewingsake, me Rejoice Mabhudhafasie en me Malcolm Powell, voorsitter van die Internasionale Blouvlagjurie, het die vlae aan die verteenwoordigers van die verskillende munisipaliteite oorhandig.
“Die sukses van die Blouvlagprogram oor die afgelope elf jaar in Suid-Afrika is te danke aan die toegewydheid van deelnemende munisipaliteite,” het die Adjunk-minister gesê. Sy het die insette van munisipale amptenare, raadslede en ondersteunende gemeenskappe om Blouvlagstrande te ontwikkel en standaarde te handhaaf aangeprys en die wens uitgespreek om in die toekoms ‘n totale blouvlagkuslyn te sien.
Volgens mnr. Powell is daar geen twyfel dat die hoë standaarde en uitmuntende dienslewering wat geverg word van munisipaliteite met Blouvlagstrande vrug dra in die vorm van meer plaaslike en internasionale besoekers nie. Ook hy was van mening dat munisipaliteite erkenning moet kry vir die bydrae wat hulle tot die sukses van Blouvlagprogram gelewer het.
Mnr. Ted Knott, die nasionale Blouvlagprogramkoördineerder, het gesê die grootste bedreiging vir die volhoubaarheid van Blouvlagstrande is die kwaliteit van die water in ons riviere en estuariums. Vanjaar se Groen Druppel-verslag het die uitdagings wat die land in die gesig staar, aan die lig gebring en getoon dat die nodige vaardighede en tegniese vermoë by plaaslike owerhede gevestig moet word.
Die burgmeester van Overstrand, rdl Nicolette Botha-Guthrie, is trots op Overstrand se prestasie, veral met Grotto-strand, wat vanjaar vir die tiende keer volle status geniet en reeds ‘n loodsprojek in die eerste jaar van die projek in Suid-Afrika was. Alles is reeds in plek om ook van die komende Blouvlagseisoen ‘n groot sukses te maak.
